Abstract
Die wetenskap van die Sportsielkunde is voortdurend opsoek na voorwaardes en sleutels wat die potensiaal van die sportdeelnemer kan ontsluit en optimaliseer. Die Sportsielkunde as jong deeldissipline van die siel-kundeveld het die afgelope paar jaar op die voorgrond getree as gevolg van die feit dat die belofte tot internasionale deelname stelselmatig verwerklik is. Die aantrekkingsbeginsel wat in hierdie artikel behandel word, is 'n saak wat spontaan na vore getree het in drie aparte sportsielkundige navorsingsprojekte. Wat gemeenskaplik in al drie navorsingsprojekte is, is die feit dat al drie kwalitatiewe studies is wat die belewingswêreld van die deelnemer nagevors het aan die hand van die fenomenologiese metode wat deur Wertz ontwikkel is. In al drie navorsingsprojekte is daar in die onderhoude aan die subjekte gevra om hoogtepunt- en laagtepuntbelewinge van hul sport te gee. Die aantrekkingsbeginsel het spontaan in al drie navorsingsprojekte sterk na vore getree as 'n soort van verskuilde sleutel wat te vanselfsprekend is om raak te sien. Die doel van hierdie artikel is om die rol van die aantrekkingsbeginsel vir optimale taakgerigtheid in sport te belig en te verduidelik. Indien die rol van die aantrekkingsbeginsel verstaan kan word, kan dit besondere implikasies vir sportsielkundige praktyke hê. Op grond van die besondere aard van die aantrekkingsverskynsel is daar hoofsaaklik in hierdie sportsielkundige navorsing op die gestaltterapie en fenomenologiese paradigmas gesteun.
Get full access to this article
View all access options for this article.
