Abstract
Sedert Friedman en Rosenman in 1959 die begrip van die Tipe A-gedragspatroon (TAG) as potensiële voorspeller van koronêre hartsiektes (KHS) bekendgestel het, is uitgebreide dog teenstrydige navorsingsbevindings oor hierdie onderwerp gerapporteer. In 1981 het die Review Panel on Coronary Prone Behavior and Coronary Heart Disease van die Amerikaanse National Institutes of Health tot die gevolgtrekking gekom dat die verhoogde risiko van KHS as gevolg van TAG hoër is as dié wat onder meer deur rook verteenwoordig word. Die bevindings aangaande TAG as voorspeller van KHS is nie konsekwent deur ander ondersoeke ondersteun nie en gedurende die tagtigerjare het belangstelling in hierdie onderwerp gedaal. Die doel met die onderhawige navorsing was om die rol van die volgende in die voorspelling van KHS-status (pasiënte vs. nie-pasiënte) te ondersoek: TAG, vyandigheid, angs, die modererende uitwerking van emosionele uitdrukkingsvermoë, en die mediërende vs. modererende effek van sigaretrookgedrag op TAG. Ses-en-dertig wit, middeljarige mans wat 'n miokardiale infarksie (MI) binne die voorafgaande 24 maande gehad het sowel as 36 mans met 'n vergelykbare ouderdom, beroep en sosio-ekonomiese agtergrond maar met geen tekens van hartsiektes nie, het vraelyste van TAG, emosionele uitdrukkingsvermoë, vyandigheid en angs voltooi. 'n Diskriminantontleding wat op die persoonlikheidsvraelyste alleen uitgevoer is, het 'n diskriminantfunksie opgelewer wat deur slegs TAG gedefinieer is en wat 56,9% van die proefpersone korrek as óf MI-pasiënt of nie-pasiënt geklassifiseer het. Met die insluiting van gerapporteerde sigaretrookgedrag as bykomende veranderlike, het hierdie veranderlike TAG in die diskriminantfunksie vervang wat 'n persentasie van korrekte klassifikasies van 73,6 opgelewer het. Nóg die interaksie tussen TAG en emosionele uitdrukkingsvermoë, nog dié tussen TAG en gerapporteerde sigaretrookgedrag was beduidend. Die gestandaardiseerde parsiële regressiekoëffisient vir die voorspelling van KHS op grond van sigaretrook was egter 0,46 terwyl dié vir TAG slegs 0,10 was. Hierdie bevinding suggereer dat sigaretrook beskou moet word as 'n mediator, in plaas van 'n moderator, van TAG in die statistiese voorspelling van KHS.
Get full access to this article
View all access options for this article.
