Abstract
Die taak om die fenomenologiese benadering tot die psigoterapie te beskryf is buitengewoon moeilik. Die rede hiervoor is geleë in die feit dat die fenomenologie geen teoretiese struktuur of spesifieke psigoterapeutiese tegniek aanbied nie. Sy doel is liewer daarop toegespits om die wetenskapshouding van die wetenskaplike ten opsigte van sy werksgebied te beïnvloed. In 'n poging om tot klaarheid te kom is hier gebruik gemaak van die kontrastering van twee uiteenlopende gesigspunte aangaande die mens. In die een geval is daar gekyk na 'n suiwer natuurwetenskaplike oriëntasie. Dié standpunt is as positivisties en reduksionisties aangetoon. Ten einde aan te toon dat 'n sodanige benadering onaanvaarbaar vir 'n holistiese menswetenskap is, is 'n alledaagse, maar warm menslike situasie as teenstellende illustrasie gebruik. Hierdie twee uiteenlopende benaderingswyses tot die mens word, met verskeie grade daartussen, ook in die sielkunde as vak aangetref. Aan die een uiterste vind ons 'n ontmoeting tussen sielkundige en proefpersoon waar die persoonlike kontak tot 'n minimum beperk word. Dit kan die statistiese benadering genoem word. Die ander uiterste word verteenwoordig deur wat die eksistensiële ontmoeting genoem kan word. Dit is die ontmoeting wat in die fenomenologies-georiënteerde psigoterapie nagestreef word. Die voorwaardes vir die daarstelling van die milieu waarin 'n sodanige ontmoeting kan gedy, word beskryf.
Get full access to this article
View all access options for this article.
