Abstract
In hierdie Studie is daar met kwantitatiewe navorsingsmetodes nagegaan of begaafde kinders wat naskoolse programme bywoon beduidende positiewe selfkonsepveranderinge vertoon. Die ondersoekgroep het uit 60 blanke, Engelssprekende begaafde kinders tussen die ouderdomme agt en 12 jaar bestaan. 'n Solomon-viergroepontwerp is gebruik en die eksperimentele groepe het 'n driemaande kursus in paleontologie by 'n naskoolsentrum vir begaafdes gevolg. Die ‘Piers-Harris Selfkonsepskaal’ is vir voor- en natoetsings gebruik. Daar is bevind dat selfkonsepveranderings van begaafde kinders wat die program deurloop nie beduidend verskil van dié wat nie die program deurloop nie en dat selfkonsepte in 'n positiewe sowel as in 'n negatiewe rigting verander. Alle beskikbare gegewens oor dié proefpersone wie se selfkonseptellings, in verhouding met die res van die groep, beduidend meer positief of meer negatief verander het, is toe kwalitatief ontleed.
Die resultate dui daarop dat begaafde kinders wat aanvanklik oor die algemeen positief geëvalueer word, baat vind by die kognitiewe stlmulering wat die spesiale program bied, terwyl dié kinders met emosionele problematiek negatiewe selfkonsepveranderings vertoon. Daar moet egter op gewys word dat hierdie bevindinge slegs op die spesifieke ondersoekgroep van toepassing is en dat dit nie na alle begaafde kinders veralgemeen kan word nie.
Get full access to this article
View all access options for this article.
